Jagters looi die teikens
‘Vlymskerp’ is die enigste woord wat die 47 skuts se vernuf kan beskryf wat aan die maandelikse byeenkoms van die Suid-Afrikaanse Jagtersvereniging se Kosmostak deelgeneem het. Die kompetisie is Saterdag, 11 Julie, by die Evert Genis-skietbaan gehou en het die ywerige jagters sommer vroeg-vroeg uit die vere gehad.
Evert Genis, Jako Steenkamp en Jacques Scholtz het die eerste drie plekke op die buffeltabel met 25 uit 30, 24 uit 30 en 22 uit 30, onderskeidelik, losgeskiet terwyl Drian Podges, Christo Bailey en Evert Genis die topplekke op die rooiboktabel beklee. Drian het ‘n uitmuntende telling van 45 uit 45 behaal, terwyl Christo en Evert elk met 43 uit 45 kort op sy hakke is.
Die swartwildebeestabel word deur Iwan Lues met 38 uit 45 oorheers, met Evert Genis en JC Schoeman in die tweede en derde posisies, onderskeidelik met 37 en 34 uit 45. Christo Bailey het op sy beurt die vlakvarkteiken met ‘n perfekte telling van 45 uit 45 baasgeraak, terwyl Johan Geldenhuys en Stoffel Bester met 45 en 44 uit 45, onderskeidelik, kort op sy hakke is.
Wat die kleiduif-afdeling betref, het Jako Steenkamp koning met ‘n telling van 12 uit 15 gekraai. Jacques Scholtz is tweede met 11 uit 15 en Jan Wessels derde met nege uit 15.
Die Suid-Afrikaanse Jagtersvereniging se Kosmostak het Saterdag, 11 Julie, hul maandelikse byeenkoms by die Evert Genis-skietbaan net buite Standerton aangebied en vir heelwat aksie gesorg. Pa Corrie Visagie het ‘n wakenede oog oor Corrie Junior gehou toe hy sy ouer sussie, Carina, en ál die volwasse skuts met die vlakvarkteiken aangevat het.