Een sterf onder bisarre omstandighede
VOLKSRUST - Wat veronderstel was om ‘n sorgvrye winterwegbreek te wees, het die afgelope naweek in ‘n nagmerrie vir ‘n egpaar van die Volksrust-boeregemeenskap ontaard toe hulle plaashuis in die vroeë oggendure van Sondag, 10 Julie, afgebrand het en ‘n familielid (18) wat die plaas in hulle afwesigheid opgepas het, vermoedelik in die vlamme omgekom het.
Die brand het na bewering tussen 03:00 en 04:00 ontstaan waartydens ‘n bejaarde familielid, wat minder as ‘n kilometer van die huis (op dieselfde plaas) bly, onraad vermoed het toe haar honde verwoed begin blaf het. Sy het uit haar bed opgestaan om ondersoek in te stel en in haar nagklere na die brandende huis gehardloop uit vrees dat die jong familielid wat die plaas tydens die egpaar se vakansie opgepas het, dalk in die huis vasgekeer was.
Sy het in haar angs ‘n buurman van ‘n nabygeleë plaas gebel en hom van die brand in kennis gestel. Hy en sy broer het dadelik gereageer en haar binne 20 minute te hulp gesnel. By die vlamverswelgde huis aangekom, het hulle die bejaarde vrou dadelik terug na haar huis vergesel en toe na die brandende toneel teruggekeer om vas te stel wat te redde was en om seker te maak dat niemand in die huis vasgekeer was nie. Volgens die buurman was die vuur reeds so warm dat die huis se ruite gebars het en dat daar geen tekens van lewe binne die brandende huis was nie.
Ná ‘n lang gesukkel het die buurman en sy broer daarin geslaag om ‘n gassilinder te ontkoppel en sodoende ‘n ontploffing te voorkom. Hulle het ook alles en enigiets binne hul bereik uit die huis gedra en daarin geslaag om twee voertuie uit die motorhuis te sleep.
Teen hierdie tyd het meer boere opgedaag om te help en was die polisie van die voorval in kennis gestel.
Die vlamme was later die oggend heeltemal geblus waarna die polisie die huis vir leidrade van moontlike oorsake vir die brand en vir enige slagoffers deursoek het. Hulle het op ‘n erg verbrande lyk onder dele van die ineengestorte dak in die sitkamer afgekom, maar was nie in staat om die oorledene te identifiseer nie. Luidens ooggetuies was die bejaarde familielid op daardie oomblik in ‘n erge emosionele toestand omdat sy gevrees het dat die lyk (wat gevind is) moontlik dié van die familielid was wat die plaas vir die egpaar opgepas het.
Volgens haar het die familielid ‘n danspartytjie by ‘n gasteplaas net buite Volksrust bygewoon en het hy nog nie teruggekeer huis toe nie, aangesien hy gedurende sy tyd op die plaas by haar in haar huis gewoon het. Ooggetuies het later bevestig dat hy wel die partytjie tussen 01:00 en 02:00 Sondagoggend verlaat het.
Eienaardig genoeg het hy ‘n vriend in kennis gestel dat hy veilig tuis was nádat vriende hom by ‘n ongelukstoneel langs die pad opgetel en by die huis afgelaai het. Hy het na bewering beheer oor sy voertuig op pad plaas toe verloor waarna die voertuig etlike meter ver in die veld tot stilstand gekom het. Dit is glo híér waar vriende van die partytjie op hom afgekom het en hom by die plaashuis, in plaas van die bejaarde familielid se huis, afgelaai het en hy ‘n vriend laat weet het dat hy veilig tuis is.
Wat daarna gebeur het, is nog onbekend. Die polisie en forensiese ondersoekspan is nog besig om die toneel vir leidrade te deursoek. Teen druktyd was die oorsaak van die brand nog onbekend en was die lyk nog nie geïdentifiseer nie.
Die egpaar het intussen Maandag teruggekeer plaas toe en woon vir tyd en wyl by die bejaarde familielid.
![Foto, net 'n voorstelling.](https://static.wixstatic.com/media/c48887_6581a7c5dc1740bc8adcefba58f108ac~mv2.jpg/v1/fill/w_787,h_443,al_c,q_80,enc_auto/c48887_6581a7c5dc1740bc8adcefba58f108ac~mv2.jpg)
Die foto hierbo is net 'n voorstelling.