top of page

Standerton-akteur gaan gróót

STANDERTON - Mandri Sutherland, oud-Standertonner, het in 2010 aan Hoërskool Ermelo gematrikuleer. Sy het daarna aan die Universiteit van Stellenbosch drama gaan studeer en haar gunsteling vakke was Acting, movement en kabaret.

Tydens haar finalejaar-kabareteksamen het sy die rol van ‘n ligaamsbouervrou, Verna Koekemoer, vertolk. Sy het dié eksamen Cum Laude geslaag. Mandri het by legendes soos Antoinette Kellerman, Marthinus Basson, Stian Bam en Nicole Holm geleer en tydens haar universiteitsloopbaan aan produksies soos “Aars!”, “Aantrekkingskrag”, “The Paper Circus”, “Die kleine meermin” en “Die man wat wou wees”, deelgeneem.

Sy ontvang na haar drie jaar studie haar B.A. Drama- en Teaterstudiegraad. Sy het in 2016 by die Woordfees op Stellenbosch begin werk en gaan tussendeur vir oudisies. Sy is ook vir die eerste keer op kykNET in ‘n televisie-advertensie vir WeChat te sien.

Mandri skep ook haar eie werk. Vanjaar het ‘n groep van vyf oud-dramastudente hul eie marionetmaatskappy, “The Loft Puppet Co”, begin waar hulle hul eie tekste skryf, musiek komponeer en hul eie poppe maak. Hul eerste produksie “Die onwaarskynlike verhaal van Miko” is reeds verskeie kere in Malmesbury en Wellington opgevoer en die produksie het baie positiewe terugvoer ontvang. Mandri is ook ‘n straatoptredekunstenaar en tree by kos- en kunsmarkte en kunsgalerye op.

Sy sê dat dit vir haar verskriklik lekker is om ‘n lewende kunswerk te wees. En daar is iets betowerend om op jou eie op te tree en op jouself aangewese te wees. Sy begin hierdie week aan die Huisgenoot Tempo-toekennings werk, hierdie keer agter die skerms.

Voorts sê sy dat sy baie geseënd is om sterk vrouekunstenaars as mentors rondom haar te hê, soos onder andere Saskia Wicomb, dogter van wyle Randall Wicomb. Saskia maak ongelooflike kostuums wat Mandri tydens haar straatoptredes kan dra.

In ons gesprek met Mandri, sluit sy met hierdie gediggie af:

“In die strate van Stellenbosch

Sal ek bly loop

Met my bloedrooi matriekafskeidrok

En vergiettes op die kop”

Mandri Sutherland


Important Articles
Recent Articles
Find us online at:
  • Facebook - White Circle
  • YouTube - White Circle
Search by tag
bottom of page