Gróót wending in moordkomplot
BETHAL - Die saak van die sogenaamde Bethal-moordkomplot het ‘n groot wending geneem met die inhegtenisneming vroeër vandeesweek van die vermeende meesterbrein.
Ná verkeerde inligting wat deur die Valke in Mpumalanga aan die media deurgegee is, is daar vasgestel dat die sogenaamde komplot nooit was om ‘n boer te vermoor nie, maar eerder oor ‘n boer wat na bewering beplan het om van inwoners waarmee hy sukkel om van sy plaasgrond af te kry, ontslae te raak. Barnard het blykbaar vee ter waarde van bykans R1 miljoen verloor nadat hulle vergiftig is.
Kaptein Dineo Sekgotodi, woordvoerder van die Valke in Mpumalanga, het gesê die boer, Hendrik Abraham Barnard (51), is Maandag in hegtenis geneem en het dieselfde dag in die Bethal-landdroshof verskyn. Na sy verskyning is hy op R30 000 borgtog vrygelaat.
Volgens Sekgotodi het Barnard glo vir Sunboy Sibande (35), wat weens die beweerde komplot in hegtenis geneem is, R60 000 gegee om huurmoordenaars te vind om die mense wat op sy plaas woon te vermoor.
Sibande het na bewering Bonginkosi Excellent Mnisi (33), Dumisani Robert Sambo (46) en Nomalanga Khumalo (49) genader om die daad uit te voer. Die drie is reeds verlede maand in hegtenis geneem en is steeds in aanhouding. ‘n Ongelisensieerde vuurwapen waarvan die reeksnommers verwyder is, is in eenvan die verdagtes se besit gevind.
Aanvanklik is berig dat vyf verdagtes, waaronder Mnisi, Sambo en Khumalo, in Januarie in hegtenis geneem is nadat hulle saamgesweer het om ‘n boer te vermoor nadat dié ‘n hofbevel verkry het om hulle van sy grond te verwyder. Die inligting was egter verkeerdelik aan die media oorgedra en Sekgotodi het verskoning vir die ‘misverstand’ gevra.
Volgens haar is Mnisi, Sambo en Khumalo nie die inwoners wat op die plaas gebly het nie, maar egter deur Sibande, die middelman, gehuur is om die inwoners op Barnard se plaas te vermoor. Die inwoners beweer hulle het voorvaderlike regte op die grond en weier om die plaas te verlaat.
Aanklagte teen twee van die vyf verdagtes wat aanvanklik in hegtenis geneem is, is ná hule tweede hofverskyning op 16 Januarie teruggetrek.
Mnisi, Sambo en Khumalo het almal om borgtog aansoek gedoen. Mnisi is borgtog geweier. Sambo en Khumalo is borgtog van onderskeidelik R10 000 en R30 000 toegestaan, maar kon nie die bedrae betaal nie en bly steeds in aanhouding.
Al vyf verdagtes sal na verwagting op 27 Februarie weer in dieselfde hof verskyn op aanklag van sameswering tot moord. (Bron: Maroela Media)